’n Slaghuis-eienaar op Joubertina vermoed een van sy “getroue werkers” sit agter die diefstal van R48 000.
Mario Strydom, eienaar van die Bokmakierie Slaghuis, vertel hy het Vrydagaand agtergekom die dag se kontant is skoonveld.
“Toe ons om 8.45nm. die slaghuis se deure wou sluit, het ek met ’n skok agtergekom die geldsak met R48 000 het spoorloos verdwyn.
“Die kassier sit die geld nog al die jare op dieselfde plek neer, en nog nie een keer het ’n sent daarvan weggeraak nie,” het Strydom gesê.
“Ek het onmiddellik na die beeldmateriaal van ons sekuriteitskameras gaan kyk, en daar was dit duidelik: Een van ons werknemers het die geld omstreeks 8.30nm. van die toonbank gevat en daarmee verdwyn.
“Hy het ook die deure van die slaghuis agter hom gesluit en ons moes mense van buite kry om die deure vir ons te kom oopsluit.”
Die polisie ondersoek die saak.