MINSTENS 190 nuwe siele vir die Here én ’n kerk wat weer aktief saamwerk om gemeen- skapswonde te verbind en te genees.
Dít is die Hankey United Congregational Church se oogmerk in die viering van dié gemeente se 190ste bestaansjaar.
“Baie van ons leef asof die Here net op Sondae leef,” het eerw. Franklin McCabe, herder van die gemeente, aan sy volgelinge gesê, “maar die Here se Woord is oor hierdie grond uitgeroep. Ons moet uitreik na onse mense”.
Agter dié eerwaarde se woorde lê die pyn van ’n gemeenskap waar tik en ander dwelms, drank, werkloosheid en armoede hoogty vier.
Dít terwyl die gemeenskap se voorouers 190 jaar gelede as vlugtelinge, toe hul grond en vryheid deur koloniste en trekboere hulle ontneem is en hulle as slawe op plase moes werk, na Hankey gekom en in geloof die pad na ’n beter toekoms gebou het.
Die beroemde Philipstonnel, wat die manne destyds deur Vensterhoekberg met grawe en pikke gegrou het, staan vandag nog as ’n monument van die ouer geslag se toewyding.
Dié tonnel is onder leiding van William Philip, sendeling van die Londense Sendinggenootskap, gegrawe sodat die water uit die Gamtoosrivier deur die berg na die vrugbare lande aan die ander kant herlei kon word.
“En toe die tonnel klaar gegrawe is, het die bywoners base geword, want toe kon hulle self boer,” het eerw. C. Colin Constable, emeritus-leraar van die Hankey-gemeente, gesê.
Ongelukkig het apartheid, grond-onteiening en ’n tweede fase van verknegting weer jare daarna gekom. Die toekoms het uitsigloos geword en maatskaplike verval sy Siamese tweeling.
Wadey van Rooyen staan in die straat bo die historiese Hankey United Congregational Church wat soos ’n kruis gebou is.
Haar dink loop saam met haar oë oor die woonbuurt rondom die kerk.
“Dit was moeilike jare. Al ons kerke in Hankey was ten nouste by die gemeenskap betrokke. Die klem was op die bevryding wat geloof kan bring en opheffings-werk, opheffingswerk, opheffings-werk,” vertel Van Rooyen, ’n afgetrede onderwyseres in die gemeenskap.
Toe kom 1994 en die demokrasie. Beloftes van ’n beter môre vlam hoër as die lig wat die kerk kan bring. Maar die restitusie van grondeise draai jare, nuwe werksgeleenthede kom nie en drank en dwelms raak vryelik beskikbaar.
Naderhand word kinders verwek omdat die kindertoelaes da-rem ’n vorm van inkomste is. “En ons sien al hoe meer kinders wat kinders kry,” som Van Rooyen die situasie op.
“In die beginjare was die armoede groot in die gebied, maar vandag is dit nog groter.”
Daarom, met die politieke- en maatskaplike strukture wat verkrummel, moet die kerk weer sy regmatige plek in die gemeenskap inneem, het die leierbestuur van die kerk en die gemeenskap be- sluit.
En toe hoor die gemeente op 5 Februarie met die Nagmaalsdiens: “U moet uit die toeskouersfase gaan en na eienaarskap oorbe-weeg. Onse voorouers het diep spore getrap en ons moet daarin loop. Ons moet die siele wat geval het daar buite gaan optel. Ons moet die mense help.”
.Die Hankey United Congregational Church het klaar ’n uitgebreide program saamgestel sodat die terminaal siekes, verslaafdes, ontredderde en verarmde bejaardes, haweloses en straatkinders weer onder veilige Gods-vlerk kan kom.
Dít alles, asook ’n gemeenskapsopkombuis, gaan natuurlik groot geld vra, beklemtoon Van Rooyen, “daarom het ons ook ’n paar geldinsamelingsgeleenthede gereël”.
Die belangrikste hiervan is:
S18Februariespesiale gholfdag (waar selfs groentjies groot pryse kan wen),
S14 April verskeidenheidskonsert met drama, dans en musiek,
S16 Junie’n aandete met 7de Laan se Oom Oubaas,
S29 Septembergroot sport- en pretdag (met onder meer ’n sierwa-optog, marathon-wedloop, inheemse sport en potjiekos-kompetisie).
Vir meer besonderhede bel Wadey van Rooyen by 00735283492 of Pieter Dolph by 0 0422840209.