Home / Hoër lone ‘pootjie opkomende boere’

DIE verhoging van plaaswerkers se minimum-lone kan tot gevolg hê dat talle klein- en opkomende boere naderhand nie meer die paal sal kan haal nie.

“Dit skep ook die gevaar dat die groter boere vorentoe meer op me-ganisasie as op hande-arbeid sal begin staatmaak,” het Ernest Pringle, president van Agri Oos-Kaap, verder gewaarsku.

Hy het gereageer op die departement van arbeid se aankondiging dat plaaswerkers se minimum maandelikse loon van 1 Maart van R1375,94 tot R1503,90 verhoog word.

Die weeklikse loon styg van R317,51 tot R347,10 en die uurlikse loon van R7,04 tot R7,71.

Die minimum vereiste jaarlikse salarisverhogings vir plaaswerkers, wat reeds bogenoemde lone of meer as dit verdien, is weer gegrond op die inflasiekoers met ’n bykomende 1,5% daarby.

“In beginsel skort daar niks met die verhogings nie. Wat boere soos ek wel bekommer, is dat die produktiwiteit nie ook met die inflasiekoers plus 1,5% verhoog word nie,” het Pringle uitgewys. Daarmee saam styg inset- en produksiekoste ver bo 7%, terwyl die produsenteprys op onaanvaarbaar lae vlakke bly, aldus Pringle.

“Daar is geen regeringsregulasie wat bepaal dat ons verkoopprys by die plaashek met 7% moet opgaan nie. Dít terwyl ons produkte op die winkelrak al hoe duurder raak.”

Al bogenoemde faktore maak dit al hoe moeiliker vir boere veral beginner- en kleinboere om kop bo water te hou, het Pringle uitge-wys.

Hy het ook gesê die meer gevestigde boere kan naderhand sommetjies begin maak en oplaas op grootskaalse oorskakeling na me-ganisasie besluit “omdat dit op die lange duur ’n goedkoper opsie kan wees”.

Naas die regering en toerisme is landbou die grootste werkverskaffer in die Oos-Kaap.

Intussen waarsku die departement van arbeid dat boere wat nie gehoor gee nie aan die jongste verhogings in plaaswerkerlone, dit op eie risiko doen.

“Ons inspekteurs en wetstoepassingspanne is op gereedheidsgrondslag om toe te sien dat elke letter van die wet wel toegepas word.” het Page Boikanyo, woordvoerder, gesê.

  COMMENTS 
 
WEATHER
Weather for Friday 2012-05-18
Please select your area for forecast
CPT 12° - 14° icon
PTA 7° - 24° icon
JHB 5° - 21° icon
BLOEM 2° - 23° icon
DBN 16° - 27° icon
PE 9° - 19° icon
Visit WeatherSA.co.za for a more detailed forecast.
 
What's Happening
Search by category
SCHOOLS
Find local schools
Groups / Clubs
Find local Groups / Clubs