|
VIR talle inwoners van die Marina Martinique, Astonbaai en Paradysstrand is die pad wat na Jeffreysbaai tussen die Tokyo Sexwale-woonbuurt en Ocean View deurloop al jare reeds ’n kopseer.
Daar het gereeld berigte in die plaaslike media verskyn van voetgangers wat op hierdie pad raakgery is, asook die voertuie wat met klippe bestook word. Die onlangse oprigting van ses spoedwalle en ’n verkeerssirkel op hierdie pad het hierdie kopseer vir talle vererger. Volgens Tiny Coetser van Astonbaai ondervind die inwoners van die Marina Martinique en Paradysstrand geweldig probleme op hierdie pad. “Ek glo ek praat namens menige inwoners van hierdie woonbuurte. Ons is verplig om hierdie pad te gebruik as ons na die Jeffreysbaaise sentrale besigheidsgebied moet gaan, maar nou het die Kouga-munisipaliteit ’n verkeerssirkel en niks minder as ses spoedwalle gaan staan en bou nie. Dit is bo-en-behalwe die drie voetoorgange wat reeds op die pad is!” Tiny is bekommerd oor wat sal gebeur indien daar weer stakings is, of mense besluit om weer die verbygaande motors met klippe te bestook. “As die motors met klippe weer bestook moet word, waarheen gaan mens dan? Jy is vasgekeer tussen die spoedwalle! “Hier woon baie afgetrede en bejaarde mense wat hierdie pad moet gebruik en ons ag hierdie pad as ’n groot gevaar,” sê Tiny. Tiny gaan voort deur te vertel die voetgangers meen glo “dis hulle reg van weg” om die pad by die voetoorgange oor te steek “en dan op hul tyd oor die pad [te] loop”. “Ek persoonlik het dit al ondervind dat die kinders langs die pad staan en wanneer jy nader gery kom, maak hulle of hulle voor jou gaan inspring. “Ek voorsien groot probleme. Daar gaan mense sterf op hierdie pad van die dood,” sê hy. Volgens Laura-Leigh Randall, woorvoerder van die Kouga-munisipaliteit, is die munisipaliteit ook besorg oor die hoeveelheid spoedwalle wat op hierdie pad opgerig is en beoog om dit in heroenskou te neem. Hierdie spoedwalle volgens haar is deur die kontrakteur wat tans die omgewing rondom die Ocean View en Tokyo Sexwale-ingange opgradeer, opgerig. “Daar is baie voetganger-verkeer op hierdie pad. Die bulte en die verkeersirkel is nodig om die verkeersvloei te reguleer en motors binne die spoedbeperking te hou vir voetgangers se veiligheid. “Andersyds het die munisipaliteit ook meegevoel met die motoriste,” sê Laura-Leigh. Sy gaan voort deur te sê dat die hoeveelheid spoedwalle gevolglik hersien sal word en dat daar meer straatligte opgerig sal word om sodoende die area beter te belig. “Die munisipaliteit se beskermingsdienste sal ook weer met die polisie skakel oor die beveiliging van die pad,” verseker sy. Aangaande die kinders se wangedrag langs die pad, maak die munisipalitei ’n beroep op skole, ouers en voogde om kinders oor padveiligheid aan te spreek en hulle te waarsku teen die gedrag waaran hulle beskuldig word. Motoriste kan wangedrag ook by die munisipaliteit se noodnommer rapporteer. Bel 042 291 0250. Kouga Express het ook by die Kouga-munisipaliteit probeer uitvind oor die vordering van die alternatiewe roete tussen Astonbaai en Jeffreysbaai. Volgens die munisipaliteit is hierdie alternatiewe roete ’n langtermyn-projek en sal dit nie binne hierdie finansiele jaar geskied nie. Stuur jou kwale met jou plaaslike munisipaliteit na
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
of faks ’n brief met die onderwerp “Whistle-blower” na 042 293 3957.
|