|
Written by Tanya van Heerden
|
|
Thursday, 28 May 2009 15:50 |
|
DIE MR400-pad tussen Hankey en Patensie wat vir so lank al ’n kopseer vir inwoners in dié omgewing is, gaan uiteindelik opgegradeer word.
Dié pad het erg agteruit gegaan oor die laaste paar jaar weens die toename in verkeer en as gevolg hiervan is daar al verskeie ongelukke op die pad aangemeld.
Tydens ’n padveiligheid-oudit wat in 2006 deur die departement van paaie en vervoer gedoen is, is daar gevind dat dié pad dringende aandag nodig het.
Die departement het aan Terreco Consulting, ’n raadgewende maatskappy in Oos-Londen opdrag gegee om ’n basiese asseseringsverslag oor die opgradering van die MR400 te doen. Dit sluit in die impak wat die opgradering ook op die omgewing sal hê.
Volgens dié verslag sal die opgradering van die MR400 die padveiligheidstoestande verbeter en ook die vervoer van produkte beter kan akkommodeer.
Die opgradering van die pad sal wel ongerief vir verkeer en plaaslike padverbruikers veroorsaak, waarsku die verslag, maar daarom sal die Rooivlakte-pad ook opgegradeer word sodat motoriste dié pad tydens die padwerke kan gebruik.
’n Gebeurlikheidsplan sal in plek gestel word in geval van vloede wanneer toeganklikheid tot die Rooivlakte-pad onmoontlik maak.
Voorsiening sal ook gemaak word om plaaslike verkeer (mense wat in die omgewing woon en werk) te akkommodeer.
Die 61 jaar oue Noagas Rivier-brug sal gesloop moet word om plek te maak vir ’n nuwe brug, maar toestemming hiervoor sal eers van die Provinsiale Erfenis Hulpbronagentskap verkry moet word. Daar kon nie bevestig word of daar reeds toestemming hiervoor verkry is nie.
Die MR400 sal ook verbreed word, nuwe stormwater dreine sal geskep word en die bestaande brug oor die Klein-rivier in Hankey sal verbeter word wat dit veiliger vir voetgangers sal maak om te gebruik.
Daar is vergaderings in Patensie en Hankey gehou om die gemeenskap se gevoel oor die planne met die MR400 met hulle te bespreek.Geen besware is gemaak nie – inteendeel was die gemeenskap maar al te bly oor dié inisiatief wat deur die departement geneem is.
“Dit beteken vir ons (boere) geweldig baie, want daardie pad is baie gevaarlik,” het Charl Rautenbach, ’n sitrus- en aartappelboer van die plaas Vensterhoek gesê.
Vir Charl Ferreira, bestuurder van Hankey Citrus Packers beteken dit vir hom geweldig baie ten opsigte van veiligheid.
“Dit sal ook baie meer gerusstelling vir vragmotorbestuurders wees om nie meer op so ’n nou paadjie te hoef ry nie,” het hy gesê. Albei het die vergaderings bygewoon.
Die pad wat opgegradeer gaan word strek oor 15.1km en dit begin by die kruising van die Cyril Ramaphosa-woonbuurt, wes van Patensie en eindig ongeveer 700m oos van Hankey.
Dit is nog onseker wanneer daar met die opgradering sal begin, want ’n kontrakteur sal eers aangestel moet word. Volgens die verslag sal dit egter sowat 30 maande neem om te voltooi en behoort die pad vir sowat 20 jaar te hou.
|