TUIS >> Nuus >> Hoofberigte | Headlines >> Inwoner wreed vermoor
Inwoner wreed vermoor PDF Print E-mail
Written by Tanya van Heerden   
Thursday, 18 June 2009 10:08

"EK dink die Here het ons van kleins af gebind, omdat Hy geweet het ons sou net ’n kort tydjie bymekaar wees."Deon Verwy

 So vertel ’n bedroefde Annetta van der Merwe wat haar broer, Deon Verwey (49) op ’n wrede manier aan die dood moes afstaan.

  Verwey is Sondagoggend tussen 2vm. en 2.30vm. by sy huis in Maidenhairsingel op Jeffreysbaai met ’n skroewedraaier deur die hart gesteek.

  "Verwey het nog in sy bed gelê en slaap toe die verdagte vermoedelik toegang deur ’n venster gekry het en hom aangeval het," het insp. Petra Els, polisiewoordvoerder, gesê.

  Mariska Spoormaker van Die Burger berig dat te oordeel aan al die bloed op die bed, lyk dit asof Verwey nog ’n rukkie in die slaapkamer gebly het voor hy deur die huis na die agterdeur gestrompel en om hulp geroep het.

  Van der Merwe glo haar broer se voete was met ’n kabel, vermoedelik dié van ’n selfoon, vasgebind, maar die polisie kon dit nog nie bevestig nie.

  Van der Merwe, wie se huis aan Verwey s’n grens vertel sy en haar vriend, JH Potgieter het gehoor hoe Verwey om hulp skreeu.

  "Ons het net gehoor ‘help!’ en toe hardloop my vriend oor na Deon se huis toe. Hy het daarna vir my gesê Deon is gesteek en die huis is vol bloed en dat ek die motor moet bring sodat ons hom hospitaal toe kon neem."

  Hulle het met hom na die Humansdorp-hospitaal geneem, maar Verwey was reeds oorlede.

  Vir Verwey se dogter, Michelle (23) wat ook op Jeffreysbaai woon, is haar pa se dood so "onnodig", maar het sy net goeie herinneringe van hom.

  "My pa was ’n baie liefdevolle persoon. Hy het baie aandag aan mense gegee en hy kon nooit enigiets lelik aan iemand doen nie," het sy gesê.

  Tien jaar gelede, op 30 Junie moes Michelle ook haar ma, Laura aan die dood afstaan toe dié se vriend haar geskiet het.

  Intussen het insp. Marianette Olivier, polisiewoordvoerder, gesê niemand is al in verband met die moord in hegtenis geneem nie en die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

  "Items word uit die huis vermis, maar ons moet nog presies vasstel wat dit alles is."

  Indien enigiemand inligting het wat die polisie met die ondersoek kan help, kan hulle insp. Dobela by 042 200 6600 of 083 739 2810 bel.

  Verwey, wat tot onlangs nog die eienaar van die Graslaagte-slaghuis op Humansdorp was, se roudiens vind om Vrydag 11vm. vanuit die AGS Kerk Jeffreysbaai plaas.

Only registered users can write comments!

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Last Updated on Thursday, 18 June 2009 11:14
 
Banner