|
DIE aanvaarding van hul seun se dood is nie maklik nie, maar hulle vind berusting in die mooi herinneringe van ’n uitsonderlike kind.
Só het die Heine-egpaar van Jeffreysbaai gesê kort nadat hulle en hul gesin gister met ’n intieme, simboliese groetseremonie langs die see hier van hul oudste seun, Erich (41), afskeid geneem het. Hy was op die Air France-vliegtuig wat onlangs naby Brasillië neergestort het. Vir sy pa, dr. Erich Heine, was dit ’n moeilike paar dae waartydens hy onder meer bloed moes skenk vir DNS-toetse vir ingeval Erich se liggaam uitgeken moet word. Met die hulp van ’n vriend, Brent Willis, is Heine sr. met ’n roeikski tot agter die branders geneem waar hy ’n krans vir sy seun te water gelaat het. Hannetjie Heine, Erich se stiefma, het saam met sy stiefbroer, Ewald (34), ’n roosruiker in die branders geplaas. Die geleentheid is deur ’n vriendin van die gesin, Rosa Rademeyer, gereël. Volgens Heine sr. het hy net ’n eenvoudige gebed vir sy seun gedoen en was dit nie ’n formele geleentheid nie. "Dit was so rustig. Die dolfyne het daar naby speels deur die water geklief. Ek weet sy liefde vir die see en die natuur sal deur sy kinders voortleef." Alet Heine het in ’n onderhoud uit Brasilië laat blyk dat sy in die begin hoopvol was dat as daar iemand is wat die vliegramp sou kon oorleef, dit haar man sou wees. Sy en die egpaar se drie dogtertjies, Kristen (6) en die vierjarige tweeling, Anja en Melissa, is steeds by hul huis in Rio de Janeiro. Hulle word ondersteun deur Alet se moeder, Elsabe Jansen van Rensburg. Haar pa, Eben Jansen van Rensburg, wat aan die diplomatieke korps in Pretoria verbonde is, het intussen weens werkverpligtinge na Suid-Afrika teruggekeer. Alet, een van vyf dogters, beplan om haar in die Wes-Kaap, waar twee van haar susters woon, te hervestig. Die Duitse staalreus ThyssenKrupp, vir wie Heine ’n meganiese ingenieur was en as visepresident in die direksie gedien het, het intussen bevestig dat hy die drie dogtertjies se akademiese opleiding tot en met hul mondigwording sal betaal." Dit was so rustig. Die dolfyne het daar naby speels deur die water geklief. Ek weet sy liefde vir die see en die natuur sal deur sy kinders voortleef.
|