TUIS >> Nuus >> Misdaad | Crime >> Vordering in Stuurman se hofsaak gemaak
Vordering in Stuurman se hofsaak gemaak PDF Print E-mail
Written by Tanya van Heerden   
Thursday, 04 June 2009 12:14

DAAR is eindelik vordering in die hofsaak waarin Franklin Stuurman van die moord op die geliefde sakevrou van Jeffeysbaai, Cecile Potgieter aangekla word, gemaak.

Franklin Stuurman

 

Stuurman het verlede Donderdag vir die soveelste keer in die Humansdorp-landdroshof verskyn, maar hierdie keer het hy gehoor dat sy saak na die hoggeregshof in Port Elizabeth geskuif sal word. Stuurman se saak is telkemaal vir verdere ondersoek by die landdroshof uitgestel.

Hy sal op twee klagtes in die hooggeregshof verskyn: een van roof met verswarende omstandighede en een van moord.

Die regter het aan Stuurman, wat netjies geklee was in ’n swart leerbaadjie, gesê dat die direkteur van openbare vervolging ’n besluit geneem het om sy saak na die hooggeregshof oor te plaas.

Die datum vir sy verhoor is vir 19 tot 30 Oktober geskeduleer.

“Die nodige dokumente sal aan jou oorhandig word vir dié hof,” het die regter aan Stuurman gesê.

Hy is ook gevra of hy gebruik wil maak van regshulp van die hooggeregshof en of hy steeds sy huidige regsverteenwoordiger wil gebruik.

“Ek sal steeds mnr. Swarts (regsverteenwoordiger) se dienste gebruik,” het Stuurman geantwoord.

Hy is ook die keuse gegee om sy getuies self by die hof te kry en of die hof dié getuies moet dagvaar om in die hof te verskyn.

Weer het hy die hof se hulp geweier en besluit om self sy getuies bymekaar te kry om vir hom te getuig.

Die regter het die saak tot 18 Junie uitgestel, waar Stuurman se saak formeel na die hooggeregshof oorgeplaas sal word.

Sy borgtog is verleng.

Die polisie het Franklin Stuurman (26) op 20 Februarie in die dak van Potgieter se Jeffreysbaaise huis gevind met van haar besittings by hom nadat sy vroeër dieselfde dag daar vermoor is.

Stuurman was Potgieter se tuinwerker en die seun van haar huiswerker. Dit blyk dat Stuurman na bewering op die dag van Potgieter se moord omstreeks 10:00 toegang tot haar huis verkry het.

’n Struweling het buite die huis ontstaan waarna hy haar vermoedelik die huis ingesleep het.z

Sy is met ’n skerp voorwerp oor die kop geslaan en verskeie kere met ’n mes gesteek. Haar bebloede liggaam is in die sitkamer gevind.

Only registered users can write comments!

!joomlacomment 4.0 Copyright (C) 2009 Compojoom.com . All rights reserved."

Last Updated on Friday, 05 June 2009 12:26
 
Banner